Catharina Parr

Catharina Parr
Koningin-gemaal van Engeland en Ierland

Eggenoot Hendrik VIII van Engeland
Tydperk 12 Julie 1543 – 28 Januarie 1547
Voorganger Catharina Howard
Huis Huis van Tudor
Kinders Lady Mary Seymour
Gebore 1512
Oorlede 5 September 1548
Handtekening

Catharina Parr (15125 September 1548) was die sesde en laaste vrou van Hendrik VIII van Engeland. Sy is op 12 Julie 1543 met hom getroud. Sy was die vierde burgerlike met wie Hendrik getrou het en het hom oorleef. Sy was ook die Engelse koningin wat die meeste kere getroud was: altesaam vier keer. Haar naam word soms Katherine, Kateryn, Katheryne of Kathrine gespel.

Catharina het goed oor die weg gekom met Hendrik se drie kinders en was persoonlik betrokke by die opvoeding van Elizabeth en Edward, wat albei Engelse monarge geword het. Sy het ook ’n groot aandeel daarin gehad dat Elizabeth en haar ouer suster, Maria, hul aanspraak op die Engelse kroon teruggekry het.[1]

Catharina was van Julie tot September 1544 die regent terwyl Hendrik op ’n militêre veldtog in Frankryk was en as hy sou sterf, sou sy die regent bly totdat Edward mondig geword het. Hy het egter nie in sy testament vir haar ’n amp in die regering gelaat nie. Haar boek Gebede of Meditasies was die eerste boek wat deur ’n Engelse koningin onder haar eie naam gepubliseer is. Nog ’n boek, Die Klaagliedere van ’n Sondaar, het later verskyn.

Ses maande ná Hendrik se dood is sy met haar vierde en laaste man, sir Thomas Seymour, getroud. Sy is egter kort daarna, in September 1548, oorlede, waarskynlik weens komplikasies ná haar kind se geboorte.

  1. Jones, Phillipa (2010). Elizabeth: Virgin Queen. New Holland Publishers Ltd. ISBN 1-84773-515-0.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy